top of page

Vrae en Antwoorde

  • Werk jy uitsluitlik met kinders?
    Ek werk met alle ouderdomme (kinders sowel as volwassenes) en het 20 jaar ervaring met veral kinders van alle ouderdomme (was werksaam in beide laer- en hoërskole). Tans bevind ek my in posisie waar ek baie fokus op jong kinders (voorskool tot gr. 3). Dit sluit egter nie berading met ander ouderdomsgroepe uit nie.
  • Wat is binding (attachment) en hoe my ouerskapstyl dit beïnvloed?
    Binding verwys hoofsaaklik na die verhouding tussen 'n kind (baba) en sy/haar primêre versorger. 'n Persoon se bindingstyl ontwikkel gedurende die eerste drie lewensjare. Hierdie bindingstyl verwys na die manier waarop die persoon die buitewêreld in terme van veiligheid waarneem. Wanneer 'n veilige binding vorm , sal die kind veilig genoeg voel om dit te waag en die wêreld te verken. 'n Gebrek aan veilige binding, sal 'n invloed hê op gedrag soos skeidingsangs. Die hoeveelheid konsekwente, voorspelbare koestering en veiligheid wat 'n ouer gedurende hierdie kritieke tydperk van die kind se eerste drie lewensjare bied, het 'n groot invloed op die jong kind se verstand en gedrag. Konsekwente en toepaslike reaksie op 'n kind se behoeftes is absoluut uiters belangrik (dit verduidelik dus my volledige verontagsaming van slaapopleiding). As daar erge verwaarlosing of mishandeling gedurende hierdie eerste drie lewensjare is, kan die kind wat genoem word reaktiewe bindingsversteuring ontwikkel [Reactive Attachment disorder (RAD)]. Soms het omstandighede buite die beheer van goeie ouers ook 'n negatiewe uitwerking op binding (bv. voortydige geboorte, vroeë herhalende behoefte aan hospitalisasie vir óf ouer óf kind, trauma in die gesin, ens.). As jy besef dat bindingsprobleme die kern van jou baba, kleuter of kind se problematiese gedrag kan wees, kontak 'n professionele persoon so gou moontlik. .
  • Is skeidingsangs normaal en hoekom het my peuter/kleuter skeidingsangs?
    Deel van ‘n baba se normale ontwikkeling is om te leer dat skeiding van ouers nie noodwendig permanent is nie. Jong babas en selfs kleuters verstaan nie tyd nie en hul begrip van voorwerppermanensie is ook nog nie vasgelê nie. Voorwerppermanensie is die vermoë om te verstaan dat ‘n voorwerp wat weggesteek is, steeds daar is. Dit word ondermeer aangeleer deur speletjies soos koekeloer (“peekaboo”). Wanneer jy dus uit die vertrek verdwyn dink hulle jy is glad nie meer daar nie en/of hul het geen idee hoe lank jy gaan weg wees nie. Skeidingsangs bereik gewoonlik ‘n hoogtepunt tussen 10-18 maande, en teen 3 jaar is dit gewoonlik verby. Dit kan egter in tye van onsekerheid , verhoogde angs en groot veranderinge weer tydelik na vore kom ( bv. wanneer hulle van skool verander). Die kind se temperament en sy bindingstyl ( wat kortliks verwys na die mate van sekuriteit wat die kind ervaar en geïnternaliseer het, dikwels al tydens babajare) het ook 'n besliste invloed op skeidingsangs se ontwikkeling en voortgang.
  • Hoe kan ek my kind wat skeidingsangs het, help?
    Die belangrikste aspek is om sekuriteit by jou kind te skep - voorspelbare, konsekwente ouerskap met vaste riglyne en grense. Addisionele wenke sluit in: Speel dikwels speletjies soos koekeloer (“peekaboo”) om voorwerppermanensie te vestig. Troos jou kind wanneer hy angstig en onseker voel – dis nie nou die tyd om hom te berispe nie. Help jou babatjie om haar wêreld te vergroot deur haar soms onder jou oog uit te laat en na ‘n ander vertrek te laat kruip of om buite bietjie van jou af weg te kruip en die wêreld op haar eie te ondersoek ( veiligheidsaspekte natuurlik altyd voorop gestel). Sê vir jou peuter wanneer jy die vertrek verlaat en dat jy weer terugkom – moenie aanneem hy weet dit nie. Moenie jou baba/peuter alleen laat wanneer sy reeds moeg of honger of oorweldig is nie – beplan skeidings ooreenkomstig haar rustiger tye in die dag. Voorsien ‘n oorgangsobjek (“trosie”) wat jou as ouer verteenwoordig in jou afwesigheid (‘n sagte speelding, kombersie, ens). Moenie die afskeid onnodig uitrek as hy bv by die oppasser moet bly nie. Moenie net verdwyn nie – selfs al is dit Mamma wat vinnig dorp toe gaan en die kindjie moet in Pappa se toesig bly. Berei jou kind voor – dit verhoog sy persepsie van jou betroubaarheid en voorspelbaarheid. Indien jou kind se skeidingsangs toenemend erger raak of nie meer inpas by die ouderdomstoespaslike verwagtinge nie, kontak ‘n professionele persoon wat vir julle ‘n evaluering en aanbevelings kan doen.
  • Is dit skadelik om my kleuter te dwing om afstand te doen van sy “trosie” ?
    Anders as die tradisionele siening dat troosobjekte ‘n aanduiding is van swak binding, word dit deur kenners deesdae eerder beskou as aanduiding van goeie binding. Dit dien ook ‘n doel van “oorgangsobjek”. Met ander woorde wanneer mamma nie daar is nie, of ek bietjie siek of ongelukkig voel, het ek behoefte aan plaasvervangende objek… wat ‘n fopspeen, kombersie, troetelbeertjie, ens kan wees. Beste raad wat ek aan ouers kan gee, is om hul instink te volg en veral nie van die kindjie te verwag om afstand te doen van die troosobjek gedurende ‘n tydperk waar daar reeds baie skommelinge in hulle lewe en roetine is nie. Die grendeltyd en omverwerping van skoolroetine is dus níé die tyd om van hulle te verwag om skielik “groot” te wees nie.
  • Kan die hoeveelheid beradingsessies vooraf bepaal word?
    Vir ‘n terapeut om by die oorsprong van emosionele trauma of ‘n emosionele probleem uit te kom, kan baie vergelyk word met die proses om vir water te boor. Wanneer iemand besluit om ‘n boorgat te sink, is daar gewoonlik ‘n tekort aan water en is die bestaande reserwes nie meer voldoende nie. Na baie oorweging en die opweeg van al die faktore word daar die besluit geneem dat die boorgat die koste en moeite werd sal wees. Hoewel goed nagevorsde geologiese metodes gevolg word om die bron of wateraar te identifiseer, is daar altyd ‘n mate van risiko dat die eerste poging nie suksesvol gaan wees nie. Dan moet daar besluit word om dalk bietjie dieper te boor, en soms moet daar deur verskeie lae geboor word om by die goeie aar uit te kom. Wanneer iemand die besluit neem om vir berading te gaan, is daar ‘n bewustheid dat die bestaande emosionele reserwes en vaardighede nie meer voldoende is om ‘n kwaliteit lewe te lei nie. In die proses om die oorsprong van ‘n emosionele wond te bepaal word daar ook gesteun op bewese en goed nagevorsde metodes. Daar is egter altyd ‘n mate van onvoorspelbaarheid, veral aangesien die mens en sy psige nie in rigiede boksies geplaas kan word nie. Om by die oorsprong en wateraar van nuwe emosionele krag uit te kom, vra dat die kliënt toegewyd is en nie te gou tou opgooi nie. In die geval van kinders sien ek dikwels in die praktyk dat ‘n sekere probleem dalk al sedert die swangerskap of vroeë kinderjare voorkom en groei, maar dan is daar ‘n onrealistiese verwagting dat probleme binne enkele sessies opgelos moet word. Wees verseker dat jou en jou kind se terapeut baie bewus is van die opoffering wat dit julle kos in beide tyd en geld om die terapieproses deur te sien. Maar soos enigiets anders in die lewe is dit slegs diégene wat dit toegewyd volg wat resultate sien. En selfs nadat die boorgat suksesvol geïnstalleer is, bly dit die eienaar se verantwoordelikheid om te sorg dat die toerusting gereeld versien en instand gehou word. Dink vandag of jy dalk ‘n emosionele droogte beleef en dit tyd is om te boor vir nuwe emosionele reserwes en vaardighede en kontak ‘n terapeut wat jy vertrou om te help boor.
  • Hoekom het my kind grense nodig?
    Konsekwente grense en die toepassing daarvan ( m.a.w. dissipline) is een van die belangrikste faktore om jou kind veilig te laat voel. Jy sal tog nie jou kind oor ‘n hangbrug sonder veilige kantversperrings laat hardloop nie… net so het jou kind grense in sy daaglikse lewe nodig om intern gereguleerd en veilig te kan voel. As jy jou kind net laat begaan en nie toepaslik reageer wanneer sy die grense toets nie, voel sy of jy haar nie raaksien nie. Dan voel hy of jy nie omgee nie.
  • Sal jy 'sleep training' aanbeveel?
    Stres is ‘n normale deel van die lewe. Indien daar volgehoue, langtermyn stres in ‘n jong kind se lewe is, het dit egter later 'n beduidende negatiewe invloed in die kind se lewe – beide op psigologiese en fisiologiese vlak. Dit beteken die kind gaan heel waarskynlik op skool sukkel om te konsentreer en selfs gedragsprobleme toon. Volwassenes kan selfs fisies siek word. Vir ons ouers met babatjies wat dikwels wonder oor die sogenaamde “sleep training” en “cry it out method” – nee, dis nie die aanbeveling nie, dit veroorsaak ongewenste stres. Om te huil is jou kleintjie se manier om ongemak of behoefte aan te dui en deur nié daarop reageer nie, leer jy haar/hom bloot dat sy niemand het om in haar behoeftes te voldoen nie, dat sy nie op jou kan vertrou nie. Die gehuil sal dus na ‘n ruk ophou, maar dit moet nie as positief gesien word nie – jou kind het hoop verloor dat jy sal kom.
  • Hoekom is emosionele geletterheid so belangrik?
    Emosionele geletterdheid is die vermoë om jou eie emosies te kan herken en verstaan, sodat jy ook ander mense se emosies beter kan verstaan. Sodra ons ‘n emosie korrek kan benoem, beweeg ons vanaf ‘n vreesrespons na ‘n denkende respons. Jou brein reageer dus nie meer met vrees nie, maar dink rustig na oor die emosie en dan kan daar beter strategieë (planne) gemaak word om die emosie te hanteer. Soos die gesegde lui… “ If you can name it, you can tame it”. Dit is dus baie belangrik dat jou kind van kleins af te leer om haar emosies korrek te identifiseer en jy as ouer moet haar gids wees op hierdie reis. Baie kinders is geneig om alle negatiewe emosies te sorteer onder kwaad of hartseer, terwyl dit soms dalk eerder frustrasie of teleurstelling of moedeloosheid is wat hulle beleef.
  • Hoe kan ek my kind begelei om emosionele geletterdheid te ontwikkel?
    Koester alle emosies – verduidelik dat ons almal verskillende emosies daagliks ervaar en dat ons soms kwaad of bang mag voel. Ons mag net nie iemand anders seermaak al voel ons nie goed nie. Lees stories oor emosies. Daar is verskeie oulike boeke beskikbaar. Bespreek TV – en fliekkarakters se emosies terwyl julle saam ‘n fliek kyk. Gebruik voorbeelde in daaglikse lewe. Wanneer julle in die winkel is en ‘n kind sien wat emosioneel buite beheer is, bespreek wat hom moontlik so kan laat voel en wat hy kan doen om hom beter te voel.
  • Is jy 'n spelterapeut?
    Ek is nie ‘n geregistreerde spelterapeut nie, maar aangesien spel die taal van die kind is, maak ek wel van terapeutiese spel gebruik.
  • Wat is jou fooie?
    Hierdie praktyk se fooie val binne die voorgeskrewe struktuur van die mediese fondse. Indien u oor 'n voldoende mediese fonds beskik, kan u die fooie terugeis. Stuur gerus 'n WhatsApp of aanlynboodskap om navrae oor kostes te doen.
  • Hoe lank duur 'n sessie?
    Die standaard tydsduur vir ‘n beradingsessie is 60 minute. Dit hang egter ook baie af van die tegniek en benadering wat gevolg word. Met kinders is dit soms nodig om die sessies tot 30-45 min (afhangende van ouderdom en konsentrasiespan) te beperk. Wanneer Gestalt Kleurterapie, Dinoterapie en Astroterapie gedoen word, is dit weer soms nodig om selfs ‘n twee uur lange sessie te skeduleer.
  • Hoe lank duur dit voordat ek verbetering by my kind sal sien?
    Dis nie ‘n maklike vraag om te antwoord nie. Verbetering in gedrag hang van verskeie faktore (bv. aard van die probleem, samewerking van die kliënt sowel as gesin, ens.) af.
  • Kan jy vir my 'n verslag skryf wat ek kan indien by die hof om toesig oor my kind te kry?
    Ek doen geen forensiese assesserings nie, daarom kan ek nie so ‘n verslag verskaf nie.
  • Kan jy vir my kind medikasie vir sy konsentrasieprobleem voorskryf?
    ATHV (Aandagtekort-hiperaktiwiteitversteuring) kan slegs deur 'n pediater of pediatriese psigiater gediagnoseer word. Slegs ‘n persoon met ‘n mediese graad mag medikasie voorskryf. Ek kan wel help met ondersteuning, ouerleiding en die aanleer van sekere vaardighede wat in die holistiese bestuur van ATHV belangrik is.
bottom of page